Angels Place Nuusbrief Junie 2010
Die kerse is uitgeblaas en ons balrokke is opgehang en van julle het sekerlik al vergeet ons het ‘n bal gehad, maar weet gerus dat die kinders van Angel’s Place steeds voordeel trek uit die fondse wat ons ingesamel het. Dankie aan elkeen wat die bal bygewoon het en op so ‘n manier ‘n verskil gemaak het. Aangeheg is ‘n paar foto’s van die spoggeleentheid.
‘n Week voor die bal staan ek so en gesels met die Angel’s Place-kinders en ek herinner hulle toe aan die bal en sê hulle moet onthou om die aand van die bal te bid en dankie te sê vir ‘n klomp grootmense wat baie duur betaal het vir ‘n kaartjie om Angel’s Place te ondersteun. Hulle het my toe eers met ‘n paar kreatiewe redes probeer oortuig dat hulle wil saamgaan en selfs ‘n paar danspassies uitgevoer. Ek se toe nee, dis nie ‘n sokkie nie maar ‘n bal. Die een dogtertjie vra toe vir my maar wat maak ‘n bal dan anders as ‘n sokkie. Ek begin toe in vervoering raak oor al die manne wat netjiese pakke gaan aanhê en al ons vroue wat mooi balrokke gaan dra en so mooi soos koninginne gaan lyk. Die een kind vra my toe maar gaan ek ‘n kroon dra as ek soos ‘n koninging gaan lyk en ek sien toe hoe ‘n ander kind in haar kamer verdwyn en te voorskyn kom met ‘n klein tiara en my vra: “Tannie, sal jy asseblief my kroon na die bal toe dra?” Ek was so half oorbluf en weens ‘n gebrek aan ‘n goeie verskoning sê ek toe ja. Toe is daar ‘n geskarrel en die volgende oomblik staan hier ‘n parade van meisies voor my wat elkeen hulle kroon vir my aanbied. Die kinders was Desember op die Royal Family Kids Camp wat ‘n kamp is vir mishandelde en gemolesteerde kinders wat hulle geleer het dat jy deel is van God se Koningsgesin, dat jy ‘n Koningskind is ongeag wat met jou gebeur het en wat jy gedoen het. Die kamp was ‘n week lank met ‘n opbou tot hul eie bal, waar hulle toe gekroon is as Jesus se koningskinders.
Hierdie kinders het niks om vir jou te gee nie en net die idee dat hulle hul krone, wat moontlik een van hul kosbaarste besittings is, vir my wou gee, was vir my so ‘n kosbare oomblik. Kyk weer na die foto’s en julle sal opmerk dat ek, Antonette en Deidre klein tiaras op ons koppe het. Die “krone” wat ons gedra het, het die kinders by Angel’s Place verteenwoordig.
Die kunsveiling was ook ‘n groot sukses. Vir ons as ‘n projekspan was dit net “awesome” hoe ons Hemelse Vader ingegryp en die aand so suksesvol gemaak het. Die wins op die kaartjieverkope was so om en by R6000, maar na die kunsveiling het ons wins gedraai by R40 000!
Ons wil elkeen wat ‘n skildery geskenk of aangekoop het, besonder bedank. Jou bydrae het ‘n groot rol gespeel in die sukses van die aand.
Theunis Nel was ons seremoniemeester en afslaer van die aand. Ons dames wat Egoli-geesdriftiges is, sal hom ken as Lukas en die manne wat ‘n passie het vir ‘n motorfiets sal hom ken as die aanbieder van Woema op Kyk-Net.
As jy so bietjie groen voel omdat jy die spoggeleentheid gemis het, skud die gevoel af want ons wil die Winterbal ‘n jaarlikse instelling maak.
Ons wil ook dankie sê aan Lara Kelbrick wat die Comrades gehardloop en mense gevra het om haar te borg as ‘n fondsinsameling vir Angel’s Place. Lara se borge het R32 395 vir Angel’s Place ingebring.
Ons prys ons Hemelse Vader vir die inkomste van die bal en vir Lara se borgskappe, want danksy die wins is daar nou voldoende fondse vir die volgende drie maande se uitgawes. Die doel van die bal was om fondse vir ‘n bussie in te samel, maar ons sal noodgedwonge van daardie fondse moet gebruik om die maandelikse uitgawes van Angel’s Place te dek.
Onthou van ons werkersdag, Saterdag 3 Julie, wanneer ons Angel’s Place se stoorkamer en kantoor gaan bou. Ons benodig nog ‘n paar handige hande en nog van die boumateriaal.
Geniet die bibberweer, want onthou ons moet die koue beleef om die somer soveel meer te geniet!
Groete