Angels Place Nuusbrief Januarie 2010
Kan jy glo daar is amper al weer net 11 maande oor voor dit weer Kersfees is en ons het nog nie eens vir almal wat gehelp het om Kersfees vir die kinders by Angel's Place besonders te maak, dankie gesê nie. Ons e-pos en webwerf het 'n "kinkel in die kabel" gehad en ek kon 'n maand lank glad nie per e-pos kommunikeer nie. Dit het gevoel of ek op 'n eiland was en nie eens 'n briefie in 'n bottel kon stuur nie!
Dankie aan almal wat verlede jaar die optrede van Mathys Roets bygewoon het. Ek het 'n paar foto's daarvan aangeheg asook 'n foto van die kinders met hul Kerskouse wat julle daardie aand gevul het. Ek hoop die van julle wat die funksie misgeloop het, voel so bietjie groen as julle na die foto's kyk, maar die goeie nuus is dat ons in die middel van die jaar 'n formele bal beplan, weer by Mellow Oaks.
Dan, dankie aan almal wat die kinders so kom bederf het met al die Kerspresentjies en Kerspartytjies; die kinders het sowaar 'n feestyd gehad. 'n Besondere dankie ook aan al die vakansie-ouers wat die kinders oor die vakansietyd uitgeneem en bederf het, veral vir julle liefde om hierdie kinders in julle gesinne te ontvang en hulle bloot te stel aan wat "normaal" is.
Dankie ook aan elkeen wat in die begin van die jaar nuwe skooluniforms, -skoene, -tasse en -skryfbehoeftes geskenk het; die kinders het hul nuwe skooljaar met groot opgewondenheid aangepak.
Ek het al gewonder of die kinders alles waardeer wat 'n mens vir hulle doen, maar ek hoef nie meer te wonder nie want begin Desember het tannie Ina (ons huismoeder) en die kinders vir my en my man, Antonette en haar man en twee pare wat by die kinders betrokke is, na 'n konsert en vingerete uitgenooi. Die kinders het ons eers laat lag dat die trane rol met die konsert wat hulle vir ons opgevoer het, en toe het ek uit my hart gehuil oor wat hulle vir ons gedoen het - na hul opvoering het hulle elkeen van die volwassenes op 'n stoel laat sit en het hulle vir ons elkeen dankie gesê en vir ons gesê wat ons elkeen vir hulle beteken. Dit was so opreg uit hulle harte uit en niemand het vir hulle gesê; om dit te doen nie. Hulle elkeen besef dat Angel's Place vir hulle 'n beter toekoms en veiligheid gee.
Mag jy 'n geseënde 2010 beleef; my gebed vir jou is om meer om te gee as wat mense dink wys is; om meer te waag as wat ander dink veilig is. Droom meer as wat prakties is en verwag meer as wat moontlik is. Mag God in 2010 saam met jou loop - elke tree.
Indien jy nog nie die video oor Angel's Place gesien het nie, kliek op die skakel hieronder: Of gaan na ons webblad www.angelsplace.co.za en gaan kyk onder Media en kliek op "The Video on Angels Place".
Groete namens Antonette, Tannie Ina, al die kinders & Gladys